Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Skriflesing: Kolossense 1:1-23 Lees: Sondag 13 Teks: 12-14 Sing: Ps. 95:1, 2, 3; Ps. 37:2, 3, 14, 15; Ps. 16:3, 4, 5; Ps. 145:3, 4, 5.
Ons deel nou reeds in ‘n erfenis en is onder die duisternis se mag uit.
Ons dank God vir baie dinge in ons lewe. In Kolossense 1:12-14 lei die Heilige Gees ons om die Vader te dank vir gawes wat ons nou reeds het terwyl ons soms dink dit is gawes wat ons eers in die toekoms sal ontvang. Volgens 1:12 is ons as gelowiges bekwaam gemaak. Ons is nou reeds bekwaam gemaak. Ons is deur die Vader bekwaam gemaak. Ons is bekwaam gemaak vir ‘n erfenis – ‘n baie besondere erfenis. Ons deel aan “die erfdeel van die heiliges in die lig”. Die heiliges in die lig verwys na die gelowiges wat ons reeds vooruit gegaan het, d.w.s. hulle wat gesterf het en nou reeds by God is. Tans is ons nog nie waar hierdie kinders van God is nie. Hierdie erfenis het ons nog nie ten volle nie, maar ons deel nou reeds daarin. Die Heilige Gees wat die Gawe van die eindtyd is, woon immers nou reeds in elke ware gelowige.
Ons kan volgens 1:13 die Vader ook dank wat ons verlos het uit “die mag van die duisternis”. Soos Israel uit Egipte verlos is, is ons ook verlos. Anders as met Israel wat verlos is uit die mag van ‘n volk wat hulle verdruk het, is ons verlos uit die oorweldigende mag van die boosheid self. Die ganse mensdom verkeer ná die sondeval in die sfeer van hierdie mag. Uit hierdie mag het die Vader die mense wat Hy uitverkies het, verlos. Die tyd van die werkwoord “verlos” wys op ‘n daad wat volledig afgehandel is. Ons is reeds nie meer in die sfeer van hierdie mag nie. Ons is nie meer slawe van die sonde en die dood nie.
Die Vader het sy verlossingswerk deur die “Seun van sy liefde” bewerk.
Die Vader het die magtige verlossingswerk deur sy Seun bewerk. Die Seun word in 1:13 die Seun van die Vader se liefde genoem. Dit is ‘n verwysing na die gebeure toe Jesus Christus deur Johannes die Doper gedoop is en die Vader Hom aangedui het as die Een wat Hy liefhet en in Wie Hy ‘n welbehae het. Die verwysing maak duidelik dat hierdie Seun die Vader se eie natuurlike Seun is – die Een wat mens geword het. Deur sy natuurlike Seun het die Vader die verlossingswerk verrig.
Deur die eie natuurlike Seun is aangenome kinders nou erfgename.
Die Vader is volgens 1:12 nie alleen ‘n Vader vir sy eie natuurlike Seun nie. Hy is ook die Vader van hulle wat Hy deur sy Seun verlos het. Daar is egter ‘n belangrike verskil. Terwyl die Seun van God se liefde, God se eie natuurlike Seun is, is die mense wat bekwaam gemaak is, deur God as kinders aangeneem. Hulle deel as aangenome kinders in God se liefde (vgl. HK Sondag 13 vr. en antw. 33).
Ons leef nou onder die regering van ‘n ander Koning
Ons wat verlos is uit die mag van die duisternis, is nie maar daarna aan ons eie lot oorgelaat nie. Ons is volgens 1:13 ingebring in ‘n besondere ryk – die ryk van die Seun van die Vader se liefde. Ons leef nou onder sy koningskap. Hy, “in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (1:14) is ons Eienaar. Hom noem ons Here! (vgl. HK Sondag 13 vr. en antw. 34)