Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Esegiël 28:1-10, 24, 26 en Psalm 46 Teks: Esegiël 28:26 Sing: Ps. 96:1,2,7,8; Ps. 61:1,4,6; Ps. 46:1,3; Ps. 46:4,6; Sb. 1-1:1,2,7.
‘Hulle sal veilig daarop woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek oordele voltrek oor almal wat hulle minag aan alle kante. Hulle sal besef dat Ek die HERE hulle God is.’
DIE HERE DIE HEERSER OOR DIE AARDE
Ons lewe in ‘n onrustige tyd. In verskillende opsigte is dit so. Daar is oorloë en aardbewings. Daar is politieke aardverskuiwings, ook hier in ons eie land. Daar is eindelose rusies tussen mense. Probleme met die klimaat. Mense wat onverantwoordelik met die skepping omgaan. Daar is te min krag, ongereelde watertoevoer. Die inflasie styg. Die kloof tussen ryk en armer word net groter. Sekere mense beweeg op die aarde rond en maak asof hulle God self is. Die deel wat ons in Esegiël 28 en Psalm 46 gelees het, is vir vandag nog baie belangrik. Veral omdat die onstuimigheid van die wêreld nie ander is as toe nie. Dit rym met die woorde uit Psalm 46 – ‘…die aarde skud, en berge wankel in die hart van die see…sy waters woed en skuim, berge bewe in sy dreuning.’
So sê die Here HERE
Die boek Esegiël steek pragtig in mekaar. In Hoofstuk 24 was die laaste aankondiging oor die ondergang van Jerusalem. In Hoofstuk 33 staan dat Jerusalem inderdaad verwoes is. Die gedeeltes hiertussen is ‘n soort van ‘n pouse. ‘n Tyd om tot asem te kom (sela). In hierdie gedeelte word die fokus geskuif. Die heidense volke, net soos God se eie volk, kry met God se oordeel te make. Hulle sal hoor – so sê die Here HERE. Niemand staan buite sy gesag nie – geen mens, geen land, geen ateïs, geen christen.
Steeds sê die mens ‘ek is ‘n god’
God oordeel oor hoogmoed, arrogansie en egosentrisme. Dit word duidelik in die profesie oor Tirus. Die koning van die stad het gedink dat hyself god is. Dit is die sonde wat teruggaan na Genesis 3. As jy so leef, dan word jy ‘n verskriklike persoon. Tirus het ryk geword deur afpersing. As die ander oorlog maak, het hy hom verryk uit hulle noodlot. Tirus is ‘n simbool van opstand teenoor God.
Bedaar en erken dat Ek God is
In Psalm 46 hoor jy hoe jy rus in ‘n deurmekaar wêreld ontvang. Dit weerklink in die refrein van die Psalm – ‘Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, ‘n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons.’ Die woord sela kom ook drie keer in die Psalm voor. Sela beteken dat jy rus – ‘n Sabbatsoomblik. Laastens mag ons ook hoor – Bedaar en erken dat Ek God is. Jy en geen ander mens is dit nie. Daarom gee die Here vir ons ruimte om stil te word.