Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.
Lees: Efesiërs 6:1-9 Teks: Efesiërs 6:2,3 Belydenis: HK Sondag 39
‘Eer jou vader en jou moeder, dit is die eerste gebod met ‘n belofte, sodat dit met jou goed mag gaan, en jy ‘n lang lewe op aarde sal hê.’
Eer hulle wie oor jou aangestel is
Die vyfde gebod is die eerste gebod, wat ons verhoudings onderling aanspreek. Ook is dit die eerste gebod met ’n belofte. As daar aan hierdie gebod gehou word sal dit met jou goed gaan. Hierdie gebod raak elkeen van ons. Want alhoewel nie almal ouers is nie, het elkeen van ons ouers. Elke persoon op hierdie aarde het ’n pa en ’n ma. Elke mens is kind. Elkeen van ons leef in ’n verhouding met mense wat oor ons aangestel is. Ons leef in gesinne met ouers. Ons leef in ‘n kerk met ‘n kerkraad. Ons leef in gemeenskappe met polisiemanne. Ons leef in ’n land met regeerders. Almal gesagsfigure met wie ons in verband leef. Die vyfde gebod spreek dit aan. Ons houding teenoor hulle wie oor ons aangestel is. Eer jou vader en jou moeder!
Wat vra die gebod?
Die vyfde gebod vra dat ons, ons ouers moet eer. Elkeen van ons is kind. Die Here gee vir ons hierdie algemene beginsel. Dit geld vir elke persoon op die aarde. Ons moet ons ouers eer. Eer behels dat jy jou ouers met waardigheid en beleefdheid te behandel. Ongeag die omstandighede moet ’n mens hulle wat oor jou aangestel is met eerbied hanteer.
Waarom vra die gebod dit?
Die gebod vra dit sodat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee. In Efesiërs staan dit so – ‘sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.’ Hierby kry die ouers ’n belangrike opdrag om geloof oor te dra. Ouers moet hulle kinders opvoed in die geloof. Klein kinders moet opgroei tot volwasse gelowiges.
Hoe kan ons die gebod gehoorsaam?
Ons gehoorsaam die gebod as ons leer om te eer. Dit behels dat gesinne gebou word rondom die Here. Dat daar geloofsgesprek is. Dat kinders en ouers kan praat oor die geloof. Dat daar op die regte manier geleer word om onder gesag te leef.