Skip to content
Menu

Die regstreekse uitsending kan hier gevolg word.

Lees: Esegiël 34:11-24; Mattheus 25:31-46       Teks: Esegiël 34:23         Sing: Ps. 99-1:1,2,3; Ps. 102-1:1,6; Ps. 146-1:5,6,7; Sb. 10-2 Onse Vader; Ps. 128-1:1,2(broeders),3(susters),4.

‘Ek sal een herder oor hulle aanstel, en hy sal hulle laat wei – my dienskneg Dawid. Dit is hy wat hulle sal laat wei; dit is hy wat vir hulle ‘n herder sal wees.’

DIE LIEFDE VAN DIE HERDER VIR SY SKAPE

As jy ‘n groot berg uitklim, kos dit heelwat inspanning. Harde werk om bo uit te kom. Kom jy bo  is daar meestal ‘n pragtige uitsig. Uitgeput van die klim, kan jy van die skoonheid geniet. Met Esegiël het ons hierdie punt bereik. Die laaste maande het ons deur moeilike gedeeltes uit die Here se Woord gewerk. Hoofstukke waarin die Here se oordeel oor sy volk uitgespreek word. Beelde wat nie maklik is om te verstaan nie. Ons het dit gehoor in die perspektief van die Messias wat moet kom. Nou is die draaipunt bereik. Die uitsig is daar. God gee vir sy volk vrede deur ‘n goeie herder (Es. 34). God gee vir sy volk ‘n nuwe gees (Es. 36). God wek sy dooie volk op sodat hulle weer leef (Es. 37). God vernietig alle kwaad (Es. 38/39). God maak alles nuut (Es. 40-48). Vanoggend staan ons stil by die tema van die herder.

Die sorg van die Herder

In vers 11 staan daar – ‘Ja, so sê my Heer, die HERE: Kyk, Ek self, ja, Ek, gaan omsien na my kleinvee en hulle opspoor.’ Die Here HERE, die Almagtige, die ewige God, die God van die ewige verbond sê: Kyk! Let op! Luister! Sien! Die sorg begin by die Here. Hy sien om na sy skape. Die rede: Nog voor die grondlegging van die wêreld het Hy die skape aan Christus gegee. En Christus het vir die prys van die skape betaal met sy kosbare bloed. Dit gee soveel bemoediging. Om te weet dat die Here in liefde bly sorg.

Die oordeel van die Herder

Die leiers van Juda en Israel word hier aangespreek. Hulle moes en moet sag, vriendelik en liefdevol wees. Soos herder vir hulle skape. Deur die verkeerde optrede van die herders is die skape nou verstrooid (vers 4). Later jare gebeur dit weer. In die tyd toe Jesus op die aarde was, is die skape verstrooi deur die harde leer van die Skrifgeleerdes en Fariseërs (Matteus 9:36). Om die rede het die Goeie Herder, die skape na Hom toe geroep –  ‘Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.’ (Matteus 11:28) Uiteindelik moet almal verantwoording doen. Daar word skeiding gemaak tussen die vet en maer skape. Tussen skaapramme en bokramme.

Die Herder lê sy lewe af vir die skape

‘Ek sal een herder oor hulle aanstel, en hy sal hulle laat wei – my dienskneg Dawid. Dit is hy wat hulle sal laat wei; dit is hy wat vir hulle ‘n herder sal wees.’ In die Nuwe Testament het hierdie herder gekom. Uit die geslag van Dawid. Hierdie Herder wat uit liefde vir die kudde, sy lewe aflê. Die regsprekende herder uit Esegiël 34 is die geslagte herder Jesus Christus. As herder lei Hy ons na God se koninkryk; is Hy die deur wat oop is vir die skape en toe vir die bokke.