Twintig jaar lank het die verbondsark in die huis van Abinadab gestaan – ’n simbool van Israel se geestelike verlate toestand. Hulle het die Here verlaat en die gode van die nasies gedien. Eers toe hulle ellende diep genoeg sny, het hulle weer begin weeklaag agter die Here aan. Samuel se boodskap was eenvoudig, maar dringend: “As julle met julle hele hart julle tot die Here bekeer, verwyder dan die vreemde gode… rig julle hart op die Here en dien Hom alleen.”
Ware bekering begin met die erkenning dat ons self die oorsaak van ons geestelike droogte is. Die volk se probleem was nie net die Filistyne nie, maar hulle eie eiewaan en ongehoorsaamheid. Hulle het gedink die teenwoordigheid van die ark sal hulle red, sonder om tot die God van die ark terug te keer. So maklik dink ons ook dat uiterlike godsdiens – erediensbywoning, kerklike dienswerk of “goeie gedrag” – genoeg is, terwyl ons harte nog aan afgode vasklou: geld, gemak, reputasie, sondige gewoontes.
Maar die Here deel nie ’n hart nie. Hy vra alles – nie halwe trou of seisoenale geloof nie. Hy kyk nie na wat mense sien nie, maar na wat in die diepte van die hart lê. Bekering is daarom nie bloot jammer wees oor gevolge nie, maar ’n diepgaande omdraai na God, ’n nuwe lewe in gehoorsaamheid en liefde.
In Christus het God self die pad oopgemaak: Hy het ons uit genade aangeneem as kinders, sodat ons met vrymoedigheid kan roep: “Abba, Vader!” (Gal. 4:4–6). Daarom roep die Here jou vandag: lê alles neer wat jou van Hom wegtrek; laat die ou mens sterf, staan op as nuwe mens. Want Hy is getrou en regverdig om jou sondes te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig.
Psalm 46:1,2 en 6
Psalm 51:1, 6 en 7
Psalm 31:1,3 en 19
Psalm 61:1,2 en 6