Skip to content
Menu

 In ons gedagtes het ons ‘n baie romantiese idee van die Kerstyd.In Openbaring 12 sien Johannes egter die werklikheid agter Betlehem: ’n vrou wat geboorte skenk en ’n vuurrooi draak wat wag om die kind te verslind. Die vrou stel die kerk van God voor, die draak is die Satan – en die kind is Christus, die Koning wat met ’n ystersepter regeer.                         Van die begin af het die duiwel probeer om God se belofte te verydel: deur Kain, Farao, Saul, Haman ens., en uiteindelik Herodes. Maar God se plan staan vas. Die Kind word gebore, en “weggeruk na God en sy troon.” Daardie enkele woord beskryf die hele verlossingswerk – sy kruis, opstanding en hemelvaart. Die Satan word neergeworp en sy mag gebreek. Hy kan die gelowiges nie meer voor God aankla nie, want die bloed van die Lam het die skuld betaal.

Tog woed die stryd voort. Die draak val nou die kerk aan – die vrou wat in die woestyn moet skuil. Die kerk leef in ’n wêreld wat haar nie verdra as sy getrou bly aan Christus nie. Tog onderhou God haar daar, soos Hy Israel met manna gevoed het. Kersfees is dus nie die romantiese verhaal van ’n baba in ’n stal nie, maar die begin van die beslissende oorwinning van God oor die bose.

Waar ons gebore word om te lewe, is Christus gebore om te sterwe – sodat geen beskuldiging ooit weer teen ons kan staan nie. Die krip is die eerste teken van die kruis; die Kind is die Koning; en die fees van vrede is ook die verkondiging van oorwinning. Daarom jubel die hemel: “Hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam.”

Kersfees is God se oorlogsverklaring – en sy oorwinning in een.

Psalm 114:1-4

Psalm 26:1, 6 en 7

Psalm 104:1,2,20 en 21

Psalm 149:1,2 en 4