Skip to content
Menu

Die Seunskap van Christus en ons kindskap van God

Geen aardse rykdom is met die genadeskat van gelowiges se kindskap van God – in samehang met die Seunskap van Christus – te vergelyk nie. Dit sentreer daarin dat ons ter wille van die “eniggebore Seun van God” – in die belydenis van Hom as die “ewige natuurlike Seun van God” – tot kinders van God aangeneem is. Ons kindskap van God bied aan ons ‘n rykdom van troos in die geloof dat ons Vader – om sy eie Seun ontwil – sy kinders se belange op die hart dra. En dit plaas ons onder die heilige roeping om in die wêreld nié soos kinders van die wêreld te lewe nie, maar in diens van Hom wat ons tot sy kinders aangeneem het. Telkens wanneer ons die Seunskap van Christus bely, neem dan ook die onberekenbare rykdom van die genadeskat van die kindskap van God gelowig ter harte.