In ’n wêreld oorlaai met inligting word ons daagliks gekonfronteer met fopnuus — stories wat oortuigend lyk, maar geen waarheid dra nie. Hierdie verskynsel help ons iets verstaan van die krisis in Galasiërs: die gemeente het begin luister na ’n “ander evangelie”. Soos vals nuus vandag, het dit geloofs-onsekerheid, wanorde en verwarring gebring. Paulus reageer daarom onmiddellik, skerp en dringend, want die kern van die evangelie self was in gedrang.
Hy is verbaas dat hulle so gou “dros”, dat hulle so vinnig van God se genade af wegbeweeg het. Die Judaïste het gesê Christus is goed, maar nie genoeg nie — daar moet nog iets by: seremonies, voorskrifte, tradisies. Só word die evangelie verdraai. En enige evangelie van “Christus PLUS” is nie goeie nuus nie; dit is die slegste moontlike nuus, want dit steel die vryheid van Christus, las die mens met skuld, en bring die siel nader aan die afgrond as aan die Here.
Paulus herinner hulle — en ons — dat God se evangelie genoegsaam is. God red nie deur addisionele openbaringe, persoonlike visioene, kulturele voorskrifte, modes, emosies of mense se opinies nie. Hy red deur Christus alleen. En daarom mag géén mens, engel of leraar ’n ander evangelie aanbied of die bestaande een versag, versuiker of verdraai nie.
Ons leef in ’n tyd waar baie “evangelies” nog steeds die rondte doen: die evangelie van materialisme, van selfverbetering, ‘n idee dat Jesus nie sonde verdoem nie, van tradisie, van persoonlike openbaring, van kultuur, van welvaart, van aardse sekerhede. Hulle klink goed — maar hulle verwyder ons van God. Die ware evangelie bly egter helder: Christus het gekom, Christus het oorwin, Christus het opgestaan, en Christus alleen red. Daarom word ons opgeroep om alles te toets, die Woord te ken, en vas te staan in die suiwer goeie nuus wat God self aan ons gegee het
| Ontmoetingsdiens | 1. Votum en Seëngroet | |
| 2. Psalm 122:1 en 2 | ||
| Versoenings-en verootmoedigingsdiens | ||
| 6. Gebed om die verligting van die Gees (Epiklese) | ||
| Woorddiens | ||
| 7. Psalm 112:1 tot 4; 5 | ||
| 8. Skriflesing | Galasiërs 1:1-24 | |
| 9. Belydenis | ||
| 10. Fokusverse | Galasiêrs 1:6-7; 15-16 | |
| 11. | ||
| Liturgiese formuliere (Doop/Nagmaal/Bevestiging ens) | 12. | |
| Antwoorddiens | ||
| 13. Psalm 75:1,3 en 5 | ||
| 13. Gebed | ||
| Kollekte | ||
| 14. Psalm 147:1,4 en 7 | ||
| 15. Wegstuurseën | ||