Die volk wou, teen wil en dank, ’n koning hê. En toe hulle eindelik daardie koning kry, lei die koning hulle teen die wil van God in. Hy doen nie wat die Here wil nie. Hy openbaar duidelik presies hoekom Samuel so teen die monargie in Israel was (1 Samuel 8 en 9). God moes hulle Koning wees!
Hulle het soos die volkere rondom hulle geword: hulle het afgode gedien en die Here, hulle God, getart. Toe die ryk uiteindelik in twee skeur, duur hierdie patroon voort onder die leiding van verdere swak en ongehoorsame konings.
Die Noordryk (Israel) is besonder boos, en God maak ’n besliste einde aan hierdie rebellie. Die tyd vir omdraai en terugdraai is verby, en Israel word in ballingskap na Assirië weggevoer. Hulle sou nooit daarvan terugkeer nie.
Die klagstaat teen Israel dui hulle gruwelike sondes aan:
- Hulle het die wet van die Here geïgnoreer.
- Hulle was ontrou aan die verbond en het afgode gedien.
- Hulle het ver van die Here af geleef.
Tog hou die Here die oorblyfsel van die volk, Juda, aan Hom getrou. Ook Juda word later in ballingskap weggevoer, maar die Here bring hulle terug om daardeur die toekoms – die koms van die Messias en die deurbraak van God se genade aan sy kinders – te teken.