Skip to content
Menu

In die Saligsprekinge leer Jesus ons hoe ’n Koninkryksburger lyk.
Hy stel ons as’t ware voor die profiel van die koninkryksburger, wat direk teenoor die sekulêre wêreldkultuur staan. Met elke spreuk word ons gekonfronteer met ons swakheid, sodat ons na die kruis van Christus sal vlug, wat alles vir ons volbring het.

Die eerste spreuk is die fondament waarop die res van die spreuke gebou word:
“Arm van gees” word heel dikwels verkeerd verstaan en verkeerd verklaar. Dikwels sien mense dit as ’n tipe “agterlikheid”, of ’n tipe intellektuele tekort. Verder probeer baie mense hierdie armoede ook as ’n fisiese armoede verklaar.

Tog word dit geestelik bedoel en verwys na die gelowige wat in alles van God afhanklik is. Dit beteken om in die geloof alles van God te verwag en alles aan Hom oor te laat—maar ook ywerig werksaam in die koninkryk te wees.

Eers wanneer die gelowige van sy eiewaan en eiegeregtigheid gestroop word om te besef dat sy bestaan alleen in die hande van die Here is, kan hy diensbaar in die koninkryk wees. Dan bou die res van die spreuke hierop.