Skip to content
Menu

Lees Ester 8, 9, 10
Teks Ester 10:1

Waar is God wanneer alles weer terugkeer na “normaal”?

Wanneer alles terugkeer na “normaal”, ontstaan die vraag gou: Waar is God?”
Ná die wonderlike uitkoms wat Ester, Mordegai en die res van die Jode ervaar het, keer alles weer terug na “normaal”. Koning Ahasveros vaardig wette uit soos dit hom behaag en Mordegai moet hom weer beywer vir die welvaart en veiligheid van sy mense. Soos die boek Ester begin het, so eindig dit. Soos Elia, ná sy groot oorwinning oor die Baälprofete, weer moes terugkeer na ʼn wêreld wat onder die onbillike mag van Isebel verkeer (vgl. 1 Kon. 19:1-4), so moes die Jode daar in die vreemde ná al die treffende gebeure ook maar weer verder leef in ʼn wêreld waar dit lyk of ʼn mens se lot in die hande van mense is. Dit is juis wanneer dít gebeur dat die vraag ontstaan: “Waar is God nou?”

Die onthou en onthou van die detail is daarom belangrik.
Mordegai en Ester skryf elk ʼn brief aan die Jode in die vreemde. Die Jode word gelas om elke jaar op die spesifieke tyd die gebeure te “herdenk.” Die opdrag is ook dat die detail van die gebeure herdenk moet word. In hulle geheue moet dit vars en nuut bly hoe groot die nood was, hoe hulle gevas en hulle tot God gewend het en hoe wonderbaarlik God uitkoms gegee het. Hulle moes dit nie doen om maar net te voorkom dat hulle die verlede vergeet nie. Hulle moes in die hede, terwyl die “normale” lewe voortgaan, lewend bewus bly van God se liefdevolle regering. Die besondere genade wat God in ons lewens bewys het, kan ook in ons gedagtes so maklik vervaag tot iets wat in die verlede betekenis gehad het maar wat in die hede geen betekenis het nie. Onthou, en onthou die detail, Geliefde. Onthou ook in besonder die detail van hoe God deur sy Seun en die Gees ons lot verander het.

Wie onthou en die detail onthou, se lewe toon besondere eienskappe.
Die fees wat elke jaar gevier is, het die gelowiges opgeroep tot ʼn besondere leefwyse:
• Feestelik en vol vreugde (vgl. 9:22)
• Oorwinnend
• Selfondersoekend (vgl. (9:31)
• Bewus van God se liefde en beskerming
• Mededeelsaam (vgl. 9:19)
• Uitnodigend (vgl. 9:27)