Posted by Admin

Psalm 123

‘Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres — so is ons oë op die HERE onse God.’

DIENSBAAR MET DIE OË OP DIE HERE

In Psalm 123 word daar vier keer verwys na oë. Dit gaan hier oor waarop die oë gerig is. Tussen die oë en die hart is daar ’n nou verband. Wat die oë sien, maak die hart vol. In die oog, in die hart. Waar die hart van vol is loop die mond van oor. Hoe word ’n hart vol van God? Met oë wat gerig is op die Here. ‘Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon.’

Gerig op die Almagtige God

In Psalm 123 word die oë gerig op God in die hemel op sy troon. In hierdie psalm gaan dit oor God wat regeer as Koning. Die aarde is sy eiendom. Hy is in beheer. Hy is die Eienaar daarvan. Dit is vir ons ’n uitkoms. Op die aarde sal mense spot en goddelose dinge doen. Maar ons weet – God regeer. Sy troon staan vas en wankel nie, ook as alles op die aarde wankel. Bo die wankelbare aarde, staan die onwankelbare troon van die Here.

Gefokus op die werke van Sy hande

In vers 2 word ’n aangrypende situasie beskryf. Dit gaan oor ’n slaaf wat leef uit die hand van sy meester. ’n Werker wat in alles afhanklik is van sy werkgewer. Slawerny beteken absolute afhanklikheid. As slaaf is jy oorgelewer aan jou meester. Slawe het geen regte gehad nie. Hierdie beeld word gebruik om ons afhanklikheid van God te beskryf. Soos ’n slaaf se oë op die hand van sy meester is, so is ons oë gerig op die hande van die Here. Op sy werke wat Hy doen. Daarvan is ons afhanklik. Deur die sonde was ons slawe van die bose. Deur Jesus Christus is ons daarvan bevry. My oë is gefokus op die hande van my besitter die Here Jesus. Op sy hande wat aan die kruis deurboor is met spykers. Want dit is die werke van sy hande – Hy het ons gered van die dood. Nou is ons nie meer slawe nie, maar dienaars van die Almagtige God.

Versadig deur Sy genade

Die Psalmskrywer is versadig van veragting, van spot en van die veragting van die trotsaards. Hy het genoeg daarvan gehad. Daar is soveel van dit in die wêreld. Hy wil dit nie meer nie, hy wil versadig word van die genade van God. Hy wil vol wees daarvan. Vol van die goedheid van God. Hy wil God te volle dien.

Gesprekspunte

  1. Hoe is die beeld wat in vers 2 gebruik word vandag op jou van toepassing? Hoe is jy afhanklik van die Here?
  2. Wat leer die Here vir jou in hierdie gedeelte oor jou omgang met Hom?

Ds. Gerben Meijer