Posted by Admin

Handelinge 17:15-34

‘Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskryf staan, – Aan ‘n onbekende god. – Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle.’

Die verkondiging van die onbekende God

Die evangelie van ons Here Jesus Christus, is bedoel vir alle volke en nasies. Alle mense moet dit hoor. Alle mense moet besef dat dit die enigste boodskap van redding is. Die evangelie spreek elke kultuur aan. Deur die eeue heen is dit so. Al die verskillende soorte mense op die aarde hoor dit. Elke volk word hierdeur gekonfronteer. Die evangelie vlek die dwaasheid, die onkunde daarvan oop. In Athene het Paulus  vir die mense van die onbekende God vertel. Vandag is God vir soveel mense onbekend. Baie mense weet van Hom, maar hulle ken Hom nie.

Die omstandighede in Athene

Athene is ’n stad vol afgode. Dit is die hoofstad van kultuur en onderwys. ’n Invloedryke stad met groot filosofiese skole. In hierdie stad bevind Paulus homself. Hier begin hy met mense praat. Dit veroorsaak ’n stryery. Hulle noem vir Paulus ‘n praatjiesmaker. Die filosowe in Athene verskil van hom, maar deur hulle nuuskierigheid wil hulle meer weet. Paulus moet voor die Areopagus verskyn.

Die evangelie vir Athene

Paulus verkondig die evangelie. Hy sluit aan by hulle kultuur. Hy vertel vir hulle van die onbekende God. Hy is die Skepper van die hemel en die aarde. Hoe kan die Atheners, wat so intellektueel is, nog in afgode van goud en silwer glo. Die tyd van onkunde is verby. Hulle oë moet oopgaan vir die enige ware God.

Die antwoord van Athene

Die Atheners spot. Hoe kan iemand nou uit die dood uit opstaan. As die liggaam gesterf het, is die siel tog vry. Hoekom sal jy nou weer gebind wil word aan ’n liggaam? Waar die evangelie verkondig word, is daar, of verharding, of versagting. Die evangelie van Jesus Christus keer nooit leeg terug nie.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com