Posted by Admin

Geloofsuithouvermoë kom deur deeglike kennis van die Here.

Let fyn op vir tekens van geloofs-moegheid.

In ons teksgedeelte (v. 27) is twee verwyte wat “Jakob/Israel” tot die Here rig. Hierdie verwyte het getuig van geloofs-moegheid. Eerstens verwyt die gelowiges die HERE (L.W. die Verbondsgod) dat Hy nie die “weg” wat hulle vir hulleself kies, wil volg nie.  Tweedens kla hulle God (L.W. Hy wat almagtig is en wat húlle God is) aan dat Hy, alhoewel Hy sien dat hulle onreg lei, tog niks daaraan doen nie. Hierdie soort moegheid by Jakob/Israel kan in verskeie vorme by die gelowige voorkom, byvoorbeeld opstandigheid, verwardheid en verslaenheid. Let fyn op vir tekens van geloofs-moegheid in jou lewe.

Deeglike kennis van die Here is ʼn vereiste vir geloofsuithouvermoë.

“Jakob/Israel” se verwyte word in vers 28 op ʼn besondere manier beantwoord. Hulle word gewys op eienskappe van die HERE en God wat hulle verwyt. Aan gelowiges wat geloofsmoeg geword het, word geleer dat ʼn deeglike kennis van die Here ʼn vereiste is vir geloofsuithouvermoë. Hulle moet begryp dat die Verbondsgod, Hy wat húlle God is,  ook die God met eeue-uitsig is (vgl. “ewige God”). Hy is ook die God wat met onbeperkte afstande werk (vgl. “Skepper van die eindes van die aarde”) en wat sonder om vermoeid of afgemat te word, sy plan na voltooiing stuur (vgl. “nie moeg of mat nie”).  Daarmee saam moet daar ook onthou word dat enigiemand die onmoontlike aanpak as hy of sy probeer om God se insig (ook sy insig oor wat vir ons die beste is) te probeer deurgrond. Hierdie kennis het ek nodig wanneer ek met vrae begin worstel en daar ʼn geloofsflouheid in my lewe begin inkruip.

Met deeglike kennis kan ek op die Here hoop en dan voortdurend nuwe krag kry.

Wie deeglike kennis van die Here het, kan vol verwagting op die Here bly hoop (vgl. v. 31).  Wie vol vertroue op die Here wag, sal in die wagtyd voortdurend krag kry. Hierdie nuwe krag wat die gelowige ontvang en die uitwerking daarvan word in vers 31 nader verduidelik.  Jy sou verwag dat ʼn arend wat slegs sy vlerke uitgestrek hou, sal val.  Tog bly dit sweef.  Die lugstrome hou die arend in die lug. Die nuwe krag wat die Here gee, sorg dat dié gelowiges wat hulle wag-op-die-Here-vlerke uitgestrek hou, hulle nie in geloofs-moegheid te pletter val nie. Selfs hulle wat baie fiks is, word moeg wanneer hulle moet hardloop. Om te hardloop, vereis immers groot inspanning van die liggaam. Gelowiges wat in beproewings en versoekings met deeglike kennis van die Here, op die Here bly hoop, sal ʼn voortdurende stroom nuwe krag ontvang.  Hulle sal hardloop soos ʼn fikse atleet wat pas weggespring het. Jakob/Israel kon ook weet dat hulle, as hulle met deeglike kennis op die Here vertrou, uithouvermoë sal ontvang.  Soos iemand wat kan aanhou en aanhou stap, sal hulle nie deur aanhoudende swaarkry afgemat raak en deur geloofs-flouheid oorval word nie.