Posted by Admin

Lees: Genesis 22:1-19, Hebreërs 11:17-19 Teksvers: Gen 22:14 Sing: Ps. 107:1,3,10; Sb. 12-3:1,2; Ps. 25:2,6; Ps. 40:4; Sb. 5-3:1; Ps. 134:4; Sb. 5-3:4,5.

Abraham het daardie plek genoem, Die Here voorsien, sodat vandag nog gesê word: “Op die berg van die Here sal voorsien word.”

DIE VOORSIENIGHEID VAN DIE HERE

In Genesis 22 sien ons die voorsienigheid van die Here. Drie keer word dit genoem – Die Here sal voorsien. Woorde wat ons gereeld hoor. Nie vreemd in die taalgebruik van die gelowige nie. Dat hierdie ding nou met my gebeur het, die Here het dit so voorsien. Die mens wik, God beskik. God sien vooruit. God se hand is sigbaar in alles wat gebeur. Geen ding gebeur per toeval nie. Alles kom uit die hand van God. Hy is ons getroue Vader. Geen skepsel kan ons van sy liefde skei nie. Dit bely ons in Sondag 10 van die HK – ‘Alle skepsels is só in sy hand dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.’ ’n Wonderlike geloofsbelydenis. Maar die geloof in die voorsienigheid van God is wel ’n geloofsaak. Dit is nie iets vanselfsprekend nie. In jou persoonlike lewe is daar gereeld ook vrae. Hoekom gebeur dit wat gebeur? Om te glo dat God in alles voorsien, is maklik as alles goed gaan. In voorspoed kan ons vir die Here dankie sê  vir alles wat ons uit sy hand ontvang. Maar hoe nou as die een teenslag na die ander kom. As jou toekomsplanne, jou werksekerheid, jou studie of jou gesondheid afbreek? Is dit deel van God se voorsienigheid? Hierby staan ons stil vandag. Die gedeelte wat ons in Genesis 22 gelees het, getuig van God se voorsienigheid.

God beproef

Die Here beproef vir Abraham. Dit hoor ons al in die eerste vers. Die Here het nie behae in die offers van mense nie. In hierdie gedeelte toets Hy Abraham se geloof. Hy wil weet of Abraham op Hom vertrou. Dit doen Abraham. In Hebreërs word dit mooi beskryf. Abraham voer die Here se opdrag uit, met die wete – ‘want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek.’

God voorsien

Abraham hoef nie sy seun te offer nie. Die Here gryp in en Hy voorsien ’n ram. In die Ou Testament word ramme meerdere male geoffer. Tydens die tiende plaag is ’n ram geoffer in plaas van die oudste seun van elke gelowige gesin. Maar dit is nie voldoende offer nie. Dit wys alles heen na Jesus Christus toe. Hy is die Lam wat geslag is vir ons sondes.

GESPREKSPUNTE

  1. Hoe sien jy die voorsienigheid van die Here in jou lewe raak?
  2. Hoe wys Isak na Jesus Christus as die Lam van God?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com