Posted by Admin

Lees Filippense 1:12-26 soos hier onder weergegee.  In die lig van die hemelvaart wat ons Donderdag 30 Mei gevier het, sal die klem in die studie op verse 19-23 val.6

12 Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. 13 Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. 14 Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

15 Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings. 16 Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig; 17 maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak. 18 Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly, 19 want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan. 20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23 Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

Gee in u studie aan die volgende sake aandag:

1.     ‘n Mens sou kon redeneer dat dit uiters nadelig was dat die ywerige verkondiger van die evangelie,  Paulus, in gevangenisskap verkeer. Paulus beklemtoon egter dat sy gevangenisskap juis die evangelie bevorder het.  Motiveer uit verse 12-14.

2.     Na watter twee soorte verkondigers verwys Paulus in verse 15-18 en wat was die motiewe van elk van hierdie twee groepe?

3.     Al was daar verkeerde motiewe by een van die twee groepe, is Paulus tog bly oor die verkondiging deur hierdie groep.  Verduidelik uit vers 18.

4.     Watter twee redes gee Paulus in vers 19 waarom hy seker is dat alles op sy redding sal uitloop?

5.     Wat wil Paulus volgens vers 20 hê moet nie in sy gevangenisskap gebeur nie en wat wil hy baie graag hê moet wél gebeur?

6.     Hoewel Jesus Christus ná sy hemelvaart nie meer liggaamlik op aarde teenwoordig is nie, is ‘n gelowige se totale lewe steeds op Hom gerig. Motiveer uit vers 21.

7.     Sou dit vir Paulus volgens vers 21 ‘n verlies wees as sy gevangenisskap op sy dood sou uitloop?

8.     Verduidelik uit vers 23 hoekom dit vir Paulus ‘n “wins” sou wees as sy gevangenisskap op sy dood sou uitloop.

9.     Uit vers 21 en 23 is dit duidelik dat gelowiges, wanneer hulle sterf, onmiddellik en bewustelik by hulle Verlosser is.  Motiveer uit die twee verse.

10.Hoewel Paulus graag sou wou heengaan om by Christus te wees, begryp hy ook hoe belangrik dit is dat hy bly lewe.  Motiveer uit verse 23-26.