Posted by Admin

Sagaria 6

“Die strydwaens het gestaan voor Hom aan wie die hele aarde behoort. Nou gaan hulle in die vier windrigtings. 6 Die strydwa met die swart perde gaan noord, dié met die wittes gaan agterna, en dié met die skimmels gaan suid.” 7 Toe die skimmel perde wegtrek, wou hulle die aarde deurkruis, maar eers toe die engel sê: “Spring weg, deurkruis die aarde!” het hulle dit gedoen. 8 Die engel het vir my geskree: “Kyk, dié wat noord gaan, bring die Gees van die Here daarheen!”

DIE VOLMAKING VAN DIE KERK VAN JESUS CHRISTUS

Die profeet Sagaria het ‘n nag vol drome. Die volgende oggend mag hy dit vir die volk gaan vertel. Die volk wat soveel hartseer meegemaak het. Deur die omstandighede is hulle moedeloos en in twyfel gedompel. Hulle sit op die puinhoop van Jerusalem. Sal God se beloftes nog in vervulling gaan? Gaan sy Koninkryk kom? Aan hierdie mense het Sagaria hierdie profesie. Hulle hoef nie vir een oomblik te twyfel nie. Dit wat die Here belowe het, sal gebeur. Dit waarmee Hy begin het, sal Hy voltooi.

Die inhoud van die gesig

Sagaria sien ‘n viertal strydwaens. Hulle word getrek deur perde van verskillende kleure. Dit laat die gedagtes teruggaan na die eerste visioen waar daar ook van perde en ruiters sprake was. Toe het hulle by die ingang van die hemel gestaan. Nou staan hulle by die uitgang. In spanning wag hulle vir die bevel van die Here. Hierdie gesig preek die volmaking van die kerk. Dit gebeur deur die werking van al drie die Persone van die Drie‑Enige God. In die naggesig openbaar die Vader sy beplanning aan Sagaria. Die Heilige Gees sal God se gerig en genade uitvoer. En die Messias (die Here Jesus Christus) sal dan die Priester‑Koning wees wat die tempel van God sal oprig. Die perde en die strydwaens simboliseer die oordeel van die Here oor die aarde. Dit is al die dinge waarmee die Gees van die Here gaan werk om die kerk uiteindelik te suiwer en te vervolmaak, en die wêreld skoon te maak.

Die troos van die gesig

Die troos uit die voorafgaande dinge is dat die kerk mag weet dat alle dreiging teen haar weggeneem word. Wat beteken dit vir ons? Hierdie aankondiging van oordeel en alles wat gaan gebeur? Die vier waens wat uitgaan na die vier windstreke en wat dood en verwoesting gaan saai, staan direk onder die bevel van God. Daar is nêrens iemand, of iewers ‘n plek wat nie deurloop nie. Die hele aarde ondergaan die suiwering van die Here. Ook die kerk. Maar hierdie aanslag van die Here is nie teen die gelowiges nie. Dit is teen die ongelowiges. Die gelowige word deur die Gees gesuiwer. Die ongelowige word deur die Gees vernietig. Die enigste manier hoe ons in die volmaaktheid kan ingaan, is om deel te wees van hierdie suiweringsproses. Dit is dan die troos: Die eindproduk is een van absolute heerlikheid, en ek en jy is deel daarvan.

Die heenwysing na Jesus Christus

Die hele saak bevat nog meer troos as wat tot nou toe gestel is, want dit is nie net die Heilige Gees wat gaan werk nie. Dit staan hier voorspel dat God ook deur sy Seun gaan werk. Daar sal ‘n man kom, en sy Naam sal Spruit/Loot wees. Hy sal tegelykertyd Koning en Priester wees. In Sagaria 3:8 is daar ook al van Hom gepraat. Hierdie eintlike tempelbouer sal Priester-Koning wees. In die Nuwe Testament word dit op meerdere plekke bevestig – Ons word in die Here Jesus opgebou tot ‘n heilige tempel in die Here. Ons word saam opgebou tot ‘n woning van God in die Gees.

Gesprekspunte

  1. Hoe ervaar jy die troos van die Here binne die konteks van jou eie lewe?
  2. Hoe verstaan jy, aan die hand van die gesig van Sagaria, die verhouding tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com