Posted by Admin

Jakobus 2:14-26 & NGB Artikel 24

Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van ‘n boom goed kan wees voordat die boom self goed is

GELOOF WAT WERK


Geloof sonder werke is dood. Dit is die punt wat Jakobus in hierdie gedeelte van sy brief beklemtoon. ‘n Geloof wat in die praktyk nie aktief is nie, is nie ‘n ware geloof nie. Dit is ‘n aktuele tema. As God in jou hart woon, dan kan jy dit van die buitekant af sien. Aan die dinge wat jy doen, of aan die dinge wat jy juis nie doen nie. Elkeen van ons as kind van die Here, moet die lig van God uitstraal.

Geloof en werke staan nie los van mekaar nie

Kan ‘n geloof sonder werke iemand red? Dit is die vraag wat Jakobus stel. ‘n Geloof sonder werke is ‘n dooie geloof. Drie keer in die gedeelte wat ons gelees het sê hy dit: Vers 14 – Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Die geloof kan hom tog nie red nie? Vers 17 – ‘Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie in sigself dood.’ Vers 26 – ‘Want soos die liggaam sonder die gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.’

 Wat is nou die verhouding tussen geloof en werke? Die Here leer ons tog nadruklik dat ons slegs deur geloof in ons Here Jesus Christus salig sal word. Hoekom moet daar dan nou nog werke gedoen word. Vanuit ‘n ware geloof vloei werke voort soos vrugte aan ‘n boom. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Daarom bevraagteken Jakobus die geloof as die werke nie daar is nie. Dit is geloof wat red. Dié ware geloof is die bron van die werke. Die werke is die vrugte van die geloof wat uit dankbaarheid voortspruit. Ware geloof sal in ons wees as ons lewens draai om God en sy wil, in plaas van dat ons lewens draai om mense en wat hulle wil.

‘n Ware geloof leef in die praktyk

Geloof is nie net iets wat jy voel en dink nie, geloof is iets wat jy doen. Jou geloof moet in die praktyk vorm kry. ‘n Ware geloof word bevestig deur ware geloofswerke. In die Bybel is daar heelwat voorbeelde waar die geloof deur die werke bevestig word. Laas week het ons in Hebreërs 11 die lys van geloofswerke gesien. Jakobus verwys hier na Abraham en Ragab. Hoe leef ek my geloof uit? Hier in die kerk, in die samelewing, daar waar ek elke dag besig is? Ons is tempels van God, gebou op ons fondament Jesus Christus. Geroep om daders van sy Woord te wees – in dié wêreld waar ons leef. ‘n Geloof wat uitgeleef word, dit maak verskil. ‘n Ware geloof leef in die praktyk.

Gesprekspunte

  1. Hoe is jy in jou lewe besig met hierdie onderwerp? Hoe dra jy vrug tot eer van die Here?
  2. Is daar in ons gemeente ‘n honger en dors na liefdesdiens? Hoe word die liefde wat ons van God ontvang, deur die geloof hier uitgeleef?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com