Posted by Admin

Mattheus 2:13-18 Openbaring 12:1-6
HK Sondag 14

‘Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.’

DIE VROU HAAR KIND EN DIE DRAAK

In die Openbaring brief gee die Here vir ons ‘n teken. Die teken gaan oor die stryd tussen God en die duiwel. Die stryd wat na die sondeval begin het. Tydens die geboorte van Jesus Christus het dit ‘n hoogtepunt bereik. Daarna het dit voortgewoed. Tot vandag toe, gaan daar nie ‘n dag verby, sonder stryd nie. Hierdie teken is direk op ons vandag van toepassing. Die duiwel kon die geboorte van Jesus nie keer nie. Hy is ontvang deur die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria. Presies soos die Here dit beplan het. Maar die duiwel het hard geprobeer. Omdat hy daarin nie kon slaag nie, plaas hy nou sy aandag op ons. Hy vervolg die vrou, die kerk wat vandag hier op die aarde is. Deur hierdie teken bemoedig die Here ons. Ons ontvang ryke troos hieruit. Juis daarin dat ons weet dat God se raadsplan altyd sal gebeur. Met die geboorte van sy Seun bewys Hy dit weereens aan ons.

Die swanger vrou

Die vrou verwys na die gemeente van die Here, sy kerk. In die Ou Testament is dit sy volk Israel. In Openbaring 12 verkeer dié vrou in barensnood. Dit beskryf Johannes vir ons – ‘Toe het daar ‘n indrukwekkende teken in die hemel verskyn: ‘n vrou beklee met die son, met die maan onder haar voete, en op haar kop ‘n kroon van twaalf sterre.’ Sy is swanger en die tyd dat sy geboorte moet gee het aangebreek. Jesus Christus sal uit die Verbondsvolk gebore word.

Die vuurrooi draak

Die duiwel wil dit met mag en mening keer. Hier kom hy nou voor in die gestalte van ‘n vuurrooi draak. Die slang uit die tuin van Eden het gegroei tot hierdie monsteragtige gedierte. Kyk, daar was ‘n groot vuurrooi draak, met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone. Sy doel – sodra die Kind gebore word wil hy Hom verslind. Dat die duiwel aan die werk is, is duidelik in die optrede van koning Herodes. Hy word deur die duiwel homself aangedryf.

Die gebore Kind

Jesus Christus word gebore. Die duiwel kan die raadsplan van die Here nie keer nie. Die geboorte van Jesus Christus is die begin van ‘n reeks oorwinnings oor die duiwel. Dit gee vir ons krag en houvas in hierdie lewe. Ons word gevoed deur die krag van die evangelie. Die Koning is gebore en Hy sal regeer tot in ewigheid.

Gesprekspunte

  1. Wat dink jy is die raadsplan van God?
  2. Hoe is dit vir jou moontlik om teen hierdie vuurrooi draak staande te bly?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com