Posted by Admin

Handelinge 5:17-42

‘DAARNA HET HULLE VAN DIE SANHEDRIN WEGGEGAAN, BLY DAT HULLE WAARDIG BEVIND IS OM TER WILLE VAN SY NAAM SKANDELIK BEHANDEL TE WORD.’

Bly om te ly – Lede van die lydende kerk van Christus

‘Maar al moes julle vir ‘n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig.’ As jy belydenis doen sê jy ja vir Christus en sy kerk, jy word lid van die lydende kerk. Al ervaar jy dit nie so direk nie, is jy deel van ‘n algemene christelike kerk wat op baie plekke vervolg word. Jy is deel van die vrou wat deur die draak vervolg word. As jy belydenis doen sê jy: Ek is bereid om saam met Christus te ly. Met oorgawe deel die dissipels daarin. Dit klink amper soos ‘n teenstrydigheid. Waardigheid en skande lyk nie of dit bymekaar pas nie. Tog het ons dit eenvoudig gehoor – Die apostels is bly, omdat hulle ly vir Jesus.

Waarvan word jy bly?

Die apostels het van die Sanhedrin weggegaan, bly al is hulle skandelik behandel. Hoe werk dit? Hoe kan jy van lyding bly word? Wie is bly as hy skandelik behandel word? Wat gebeur hier? Bly is tog die teenoorgestelde van ly? Is die apostels bly omdat hulle vry is? Hulle was toegesluit in die tronk. Die Sanhedrin soek hulle bloed. As Gamaliël nie so ‘n slim plan uitgedink het nie, sou hulle waarskynlik gestenig word. Maar die apostels is nie bly omdat hulle vrygelaat is nie. Hulle is bly omdat hulle vry is om weer voort te gaan met hulle werk. Bly omdat hulle in navolging van Christus vir sy Naam mag ly.

Om vir Jesus te ly is ‘n eer

‘En nadat hulle die apostels ontbied het, het hulle hulle laat gesel, hulle beveel om nie in die Naam van Jesus te praat nie, en hulle vrygelaat.’ Die apostels word vrygelaat, nadat hulle gegesel is. Dit maak hulle blydskap nog meer opvallend. Om gegesel te word is baie seer. Dit vat weke om te herstel. Tog is die apostels bly. Die apostels sien die saak anders as die Sanhedrin. Hulle sien dit as ‘n eer om deur die Sanhedrin verneder te word, dat hulle waardig bevind is om te ly vir sy Naam.
Waardig om te ly     
Wat beteken dit om waardig te wees om te ly? Dit wat die apostels ervaar? Vervolging is vir ons nie so bekend nie. Dit bring ons wel voor ‘n feit: Glo jy dat die blydskap in Jesus belangriker is, as enige iets anders in jou lewe? As lid van die lydende kerk van Christus is ons waardig as ons standvastig in ons belydenis bly.

Gesprekspunte

  1. Wat was die apostels se gesindheid oor die straf wat hulle ontvang het? Vergelyk ook met Mattheüs 5:10-12 en 1 Petrus 4:13.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com

Liturgie

Ps. 108:1,2,4
Sb. 18-6:1,5
Ps. 69:1,3
Ps. 73:1,10
Ps. 73:11,12
Sb. 14-3:1,2,3,4