Posted by Admin

              Lees Numeri 6:22-27 en Psalm 67          Teks: Numeri 6:27

God is regtig, ja regtig én ook seënryk teenwoordig. Leef in oorvloed!

Inleiding: Ons moet uiters versigtig wees dat ons nie maar net kennis neem van die oorweldigende rykdom wat ons as kinders van God ontvang nie. Hierdie rykdom is bepalend vir wie ek is en hoe ek leef. Hierdie rykdom van God se kinders word op ‘n besondere manier in die seën waarvan ons vanoggend gelees het, uitgespel. God het opdrag gegee dat die priesters telkens die volk moes seën.  Die volk daar in die woestyn (en later in Kanaän) moes dus oor en oor herinner word dat hulle mense van oorvloed is.

Die HERE is regtig, ja regtig teenwoordig.

Die rykdom waaraan die gelowiges herinner moes word, gaan ten diepste oor ‘n verhouding. Drie maal word die HERE se beweging na sy volk toe beklemtoon. Drie maal word gesê “Die HERE sal jou…” (vv. 24-26). En wanneer die volk geseën word, gebeur iets besonders: die HERE se Naam word op die volk gelê (v. 27). Hulle word draers van sy Naam. Hulle leef nooit los van die HERE nie. Waar hulle is, daar is die HERE in sy heerlikheid teenwoordig – Hy wat Hom aan hulle verbind het. En dit is ook nie die priesters wat op een of ander magiese manier hierdie eenheid tussen die HERE en sy volk bewerk nie. Die HERE sê uitdruklik: “… en Ék sal hulle seën” (v. 27). Die werklikheid van die HERE se teenwoordigheid word ook vanoggend uitdruklik uitgespel in sowel die doop as die belydenis van die jongmense.

Die HERE is seënryk teenwoordig.

In die HERE se teenwoordigheid by sy kinders is daar vir hulle reeds ‘n wonderlike rykdom. Daar is egter nog baie meer. Let op hoe die seën (wat so dikwels ook oor ons uitgespreek word) dit uitspel. Die seën is soos ‘n stroom water wat groei en groei en alles oorweldigend word. In die oorspronklike taal het die eerste seëning (v. 24) drie woorde en vyftien konsonante, die tweede seëning (v. 25) het vyf woorde en twintig konsonante, die derde seëning (v. 26) het sewe woorde en vyf-en-twintig konsonante.

Maar ook in die inhoud van die seëninge is die rykdom oorweldigend. Hy seën hulle nie net nie, maar sorg ook dat geen vyand in hulle lewe indring wat hulle van hierdie seën sal beroof nie – Hy “bewaar” hulle (v. 24). Die Here Jesus Christus leer ons van hierdie bewaring. Ons is verseël met die Heilige Gees wat Hy vir ons verwerf het.

Om in die teenwoordigheid van die HERE te leef beteken ook lewe. Soos die son wat oor God se skepping skyn en lewe bring, so skyn die HERE se aangesig lewegewend oor gelowiges (vgl. v. 25). Mense wat soos ‘n plant wat reeds dood is en deur die son verskroei word,  sou ook in hulle sonde-doodsheid vergaan. Deur sy “genade” (in Jesus Christus) word dooies, lewend. Gelowige, ná ons Here gekruisig is, het Hy opgestaan.  Begryp jy dat Hy met die lewe vir die wat aan Hom behoort, uit die graf gekom het.  Aan jou oor wie Hy in Christus genadig is, laat die HERE sy lewegewende aangesig skyn.

Die HERE draai ook nie sy aangesig weg van hulle wat Hy vir Hom afgesonder het nie. Met die besef dat die HERE my vriendelik aankyk, dat Hy sy aangesig oor my verhef (v. 26), moet ek lewe. Ons Hoëpriester, Jesus Christus, tree elke oomblik vir ons by sy Vader in. Daaruit vloei die aller heerlikste gawe van die HERE, naamlik ware “vrede.”

My roeping is glashelder.

Word ons geseën om maar net ons rykdom te geniet? Natuurlik mag (moet) ons ons in die stroom van seëninge verbly. As ek ‘n geseënde is, sal ek egter ook toegewy leef aan die Een Wie se seëning my oorstroom. Daarmee saam is die HERE se geseëndes ook self die HERE se seën. Deur sy geseëndes maak die HERE sy dade oor die wêreld heen bekend, sy mag en sy reddende krag onder alle nasies (vgl. Ps. 67:3).